profile pic

Die keiser, en die kinders, is kaal

Woensdag 12 Augustus 2015 Geplaas deur Sophia Kapp

ʼn Vriendin kom kuier. Kleinkind, ʼn matrikulant aan ʼn baie duur en eksklusiewe privaat skool, stert saam. Sit by ons in die kombuis terwyl ons klets en ek rooisous in ʼn pot roer. Die gesprek trek in die rigting van die skool, soos wat dit maar gaan as daar ʼn tiener deelneem. Dis nog net id.

Ons gesels oor alles wat skoolgaan belangrik maak: kêrels, partytjies, drank, grimering, selfone, matriekafskeidrokke en diëte. En so hier en daar en tussenin so ʼn bietjie skoolwerk. Kleinkind vertel van Shakespeare se Macbeth, wat hulle voorgeskrewe werk is. Ek vertel van my formidabele Engels-proffie wat in my derde jaar op Bloemfontein, in ʼn saai lesinglokaal sonder enige dekor of kostuums of slim beligting, al die rolle in Hamlet op sy eie voor in die klas vertolk het en my vir ewig aan drama verslaaf gemaak het.

Vriendin sit net en luister. Sy het in die laat 1950’s iewers in die Verre-Noord-Transvaal gematrikuleer, waar Engels net so vreemd was as Latyn. Maar Shakespeare het hulle geshakespeare, want dit was goed vir die gees en die planeet is groter as ʼn mens se agterjaart. “Ons het Julius Ceasar in matriek gehad,” kom haar skugter bydrae tot ʼn gesprek wat haar reeds op die eerste draai afgesmyt het.
Daar is ʼn dodelike stilte. Die soort stilte wat jou laat asem ophou. Want jy weet: hier kom ʼn ding.

En dit is toe ook so. Kleinkind kyk op, die ene grootogige verwondering, en vra: “Oh, was he your English teacher?”

Die arme kind is helaas nie die enigste wat kaal in die strate ronddwaal nie. Ek het my verwonder aan my studente, die room van die oes, se gebrek aan kennis wanneer hulle vertaaloefeninge moes doen. Hulle weet alles van Kim Kardashian se katelkaskenades, maar hulle weet nie dat daar gister ʼn paar duisend mense iewers in ʼn geweldgeteisterde uithoek van die aarde uitgewis is nie. Hulle verstaan nie die omvang van tragedie of die impak daarvan op die mensdom nie. Hulle kan nie onthou dat die sluipmoord op ʼn onbekende Russiese aartshertog in ʼn strategies onbelangrike landjie die hele wêreld oornag in die hel gedompel het nie.

Die ergste van alles is dat hulle nie omgee dat hulle nie weet nie.

Hulle is nie nuuslesers nie. Hulle is ook nie nuuskierig nie. Die lewe bestaan vir hulle uit hulle klein kring kennisse op WhatsApp en die plaaslike winkelsentrum. Hulle verwerf grade in plaas van kennis. Hulle lewe uitkomsgerig in plaas van doelgerig. Hulle kan lees en skryf, maar hulle het niks om te sê nie.

Wie se skuld is dit dat ons kinders so skamel geklee die lewe instap? Die onderwysstelsel? TV? Sosiale media? Of is dit ons, wat hulle deur ons voorbeeld en versuime geleer het dat middelmatigheid goed genoeg is?

Dit is nie. Veral nie as jy met taal werk nie. Want dis nou die een professie waar jy nie jou gebrek aan behoorlike kleding kan verdoesel nie, al sê jy wát.

LEES VERDER
profile pic

RSG is VivA se mediavennoot

Maandag 20 Julie 2015 Geplaas deur Gerhard van Huyssteen

Die splinternuwe Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA) is op 17 Julie amptelik tydens Tjailatyd op RSG bekend gestel. Tydens die onderhoud wat Amore Bekker met Gerhard van Huyssteen (uitvoerende direkteur van VivA) gevoer het, is die webblad geaktiveer en die mobiele toepassing bekend gestel. Amore het ook VivA se klingel vir die eerste keer op die lug gespeel; die musiek en liriek is deur Bittereinder geskryf, terwyl Fopspeen Moving Pictures (Diek Grobler en Kie.) ʼn animasievideo daarvan gemaak het.GerhardEnAmore

Op Vrydag, 24 Julie 2015, kuier VivA weer op Tjailatyd. Die eerste pryswenner in die skolekompetisie sal aangekondig word, en die gediggie wat prof Joan Hambidge vir VivA geskryf het, sal ook vir die eerste keer voorgedra word.

Joshua na die Reën, Jenna-Leigh February, Nathan Trantraal en Piet Matipa het ook vir VivA gedigte geskryf en dié sal algaande op Vrydagmiddae tydens Tjailatyd bekendgestel word. Die wenner van die skolekompetisie se groot prys (ʼn beurs van R150 000, geborg deur Atterbury Trust) sal op Vrydagmiddag, 4 September 2015 op Tjailatyd aangekondig word.

Die vennootskap tussen RSG en VivA is egter nie beperk tot mediablootstelling nie. RSG se uitspraaklys word tans grondig deur VivA hersien en sal binnekort maklik deursoekbaar op hulle webwerf beskikbaar gestel word. Dit sal ook hopelik later in hulle mobiele toepassing beskikbaar wees.

Ingevolge die ooreenkoms tussen RSG en VivA word die RSG Nuuskorpus ook binnekort op VivA se webwerf beskikbaar gestel. Dié korpus is ʼn groot versameling van RSG-nuusbulletins; navorsers kan deur die tekste soek om taalpatrone te identifiseer, eiename te soek, ensovoorts. RSG dra hiermee dus ook by tot die uitbouing van Afrikaans se hoë funksies.

LEES VERDER
profile pic

Waar kom VivA vandaan?

Vrydag 17 Julie 2015 Geplaas deur Gerhard van Huyssteen

Die idee vir die oprigting van die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA) is in vier gelyklopende toevallighede gewortel:

  • Ná die publikasie van die tiende uitgawe van die Afrikaanse Woordelys en SpelreëlsAfrikaanse Woordelys en Spelreëls (AWS) in 2009, het die Taalkommissie (TK) van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (SAAWK), toe onder voorsitterskap van prof Ernst Kotzé, besin oor wat die toekoms vir die TK inhou. Een van die idees was om ʼn omvattende grammatika van Afrikaans te skryf.
  • In 2010 het prof Rufus Gouws (Universiteit van Stellenbosch) toevallig ook die TK genader en voorgestel dat die TK dit moet oorweeg om aan ʼn Afrikaanse grammatika te werk.
  • In dieselfde tyd het ons van die Nederlandse en Friese Taalportaal-projek te wete gekom: ʼn ambisieuse projek om ʼn omvattende, vergelykende, aanlyn grammatika van Nederlands en Fries te skep.
  • Ook in 2010 het dr Theuns Eloff en prof Marlene Verhoef (Noordwes-Universiteit) die Sentrum vir Tekstegnologie (CTexT) genader en gevra vir idees om iets vir Afrikaans en Setswana te doen. Die gedagte was dat ʼn mens ʼn konsep vir Afrikaans ontwikkel en dit dan later uitbrei na Setswana.

Op 3 Junie 2011 het ʼn tiental kenners en belanghebbendes die kantoor van die SAAWK in Pretoria vergader om oor so ʼn e-grammatika vir Afrikaans te besin. Tydens dié geleentheid is my die taak opgelê om ʼn konsepsakeplan te ontwikkel, in oorleg met proff Kotzé en Gouws. En dit was dus eintlik die begin van VivA.

Vir Nederlands is daar onder andere twee belangrike instellings:

  • Die Meertens Instituut (Amsterdam) hou hom besig met navorsing oor en die beskrywing van die Nederlandse taal en kultuur, met spesifieke aandag aan die dialekte van Nederlands. Die Meertens Instituut is ook bestuursmatig verantwoordelik vir Taalportaal; en
  • Die Instituut voor Nederlandse Lexicologie (INL) is vernaamlik besig met die bestudering van die Nederlandse woordeskat en die maak van Nederlandse woordeboeke.

Vir Afrikaans word daar al sedert 1926 aan die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) gewerk; die Buro van die WAT kan dus op ʼn manier beskou word as die ekwivalent van die INL. Maar daar is geen Meertens Instituut vir Afrikaans nie, en VivA moet dus op ʼn eiesoortige manier dié hiatus vul. As dié model vir Nederlands kon werk, hoekom nie ook vir Afrikaans nie, en hoekom nie ook vir die ander Suid-Afrikaanse tale nie?

Sedert 2011 word daar uitvoerig gewerk aan ʼn omvattende sakeplan om VivA op die been te bring. Die Groot Plan se begroting vir vyf jaar is net so ʼn raps oor R30 miljoen. Die groot soektog vir geld begin...

Byna vier jaar later, in Februarie 2015, word VivA as ʼn maatskappy sonder winsmotief geregistreer, met die SAAWK, NWU, ATKV en Dagbreek Trust as stigterslede. Mnr Japie Gouws (ATKV) word verkies as die eerste voorsitter van VivA se direksie.

VivA se hoofdoelstellings is om die gebruik en gehalte van Afrikaans plaasik en internasionaal uit te bou deur:

  1. die beskrywing en bestudering van Afrikaans in sy volle omvang;
  2. die ontwikkeling van omvattende digitale en ander hulpbronne, hulpmiddele en platforms vir gesproke en geskrewe Afrikaans; en
  3. die lewering van 'n praktiese Afrikaanse taaldiens deur middel van tegnologie.

Lees hier meer oor VivA se ander doelstellings en waardes, soos vervat in die akte van oprigting.

Op 17 Julie 2015 word die VivA-skip te water gelaat met die bekendstelling van sy Woordeboekportaal – toeganklik via ʼn gratis, vanlyn app (moontlik gemaak deur die Atterbury Trust), asook via hierdie webwerf. Dit is dus die eerste konkrete en openbare bewys van VivA se bestaan.

Maar dit is net die begin. Later in 2015 word VivA se Adviesportaal (d.i. ʼn taaladviesdiens) bekendgestel, die eerste Afrikaanse artikels word op Taalportaal gepubliseer, en die volle Korpusportaal word van stapel gestuur, om maar enkele inisiatiewe te noem.

17 Julie 2015 is ʼn blye dag vir baie mense wat hard gewerk het om VivA aan die gang te kry. Ons hoop dat dit inspirerend en bemagtigend sal wees. VivA Afrikaans!

LEES VERDER
profile pic

Enkele wenke by literêre vertaling

Donderdag 16 Julie 2015 Geplaas deur Sophia Kapp

Bepaalde kwessies by die vertaling van literêre tekste in Afrikaans

 

1. Kulturele merkers

Vertalers van literêre tekste moet bo en behalwe die bron- en doeltaal ook die kulture waarin die tale pas, baie goed ken. Dit is nie genoeg om Engels te verstaan nie, ʼn mens moet verstaan watter Engels in die bronteks gebruik word. Daar is, bo en behalwe Britse en Amerikaanse Engels (waarin spelling en betekenis dikwels verskil), ook Indiese, Kanadese, Australiese en natuurlik Suid-Afrikaanse Engels, wat ook nie homogeen is nie.

Dit is noodsaaklik om te verstaan wat die verskil is tussen “I need to go potty”, “I have to use the loo” en “I have to absent myself”. En as daardie verskille in tekste aangewend word, moet dit so vertaal word.

Daarbenewens is daar tegnieke in vertaling wat bekend staan as “domestikasie” (domestication) en “vervreemding” (foreignization), waar die kulturele merkers óf vertaal óf neutraal gemaak óf behou word. Die besluit is een wat ʼn mens moet neem voordat die vertaling begin omdat dit deurlopend dieselfde hanteer moet word. Byvoorbeeld:
“He was a member of the Knesset” kan vertaal word as “Hy was lid van die Knesset” (vervreemding) of “Hy was lid van die Israeliese parlement” (neutraal) of “Hy was ʼn parlementslid” (domestikasie). Veral eiename is hier ter sprake: Behou ʼn mens die oorspronklike naam (Hänsel en Gretl) of vertaal ʼn mens dit (Hansie en Grietjie)? Kan jou storie in Duitsland afspeel met karakters wat name het soos Bongi, Faan of Edward? Kan ʼn mens ʼn kinderboek in Afrikaans vertaal en die tyd, ruimte, konteks en kulturele merkers alles vreemd hou of domestikeer ʼn mens dit? (Vergelyk byvoorbeeld Andersen se sprokies teenoor ʼn teks soos Nils Holgersson.)

2. Humor

Humor is in sekere opsigte moeiliker om te vertaal as rym, omdat dit in ʼn kultuur gesetel is. Dit is noodsaaklik dat die vertaler nie net die humor snap nie, maar ook die graad van “snaaksheid” bepaal. Dit gaan in baie gevalle nie moontlik wees om byvoorbeeld woordspeling, dubbelsinnigheid of die spanning tussen letterlike en figuurlike betekenis na die doelteks oor te dra nie. Dit is aanvaarbaar om in sulke gevalle van substitusie (gebruik ʼn ander uitdrukking of woord), ellips (laat dit net weg) of kompensasie (bring ʼn soortgelyke snaaksigheid elders in die teks in) te gebruik.

3. Dialek

Dialek wat met dialek vertaal word, is ʼn debakel wat ʼn plek soek om plaas te vind. Dialekte is nie net per definisie niestandaard nie, dit is sosiaal gemerk. En die sosiale groepering en stratifikasie is in geen twee taalgemeenskappe dieselfde nie. Die algemeen aanvaarde praktyk is om dialek met die standaardvariëteit te vertaal en net hier en daar ʼn woord te gebruik om die dialek te “merk”. Iets soos “How ya doin’, mon?” (tipiese African-American English) sal bloot vertaal word met “Hoe gannit?” wat nie noodwendig aan enige Afrikaans dialek toegedig kan word nie.

4. Tyd

Dit is ʼn tegniese punt om in gedagte te hou. Stories word in Engels baie selde in die teenwoordige tyd vertel (Monica walked into the room and blinked). In Afrikaans word die verlede tyd gebruik vir terugflitse. Selfs historiese romans word in die histories-teenwoordige tyd vertel (Monica stap die kamer binne en knip haar oë). Die vertaler moet weet hoe om die tyd te hanteer sodat die Afrikaanse doelteks nie heen en weer spring tussen die twee tye nie, maar terugflitse wel in die verlede tyd vertaal word.

5. Vloekwoorde, pornografie en sosiale taboes

Die vertaler se etiese kode is dat hy/sy die teks so goed moontlik moet vertaal, ongeag sy eie mening oor die “aanvaarbaarheid” van die bronteks. Dit is nie die vertaler se werk om tekste te sensor of te “suiwer” nie. Dit is veral nie aanvaarbaar dat die vertaler se eie (voor)oordele bepaal watter inligting, woorde of uitdrukkings in die vertaalde teks behou word nie.

Wat wel belangrik is om na op te let, is die gewig wat uitdrukkings het. Nie alle vloekwoorde is byvoorbeeld ewe aanvaarbaar of afstootlik nie. In die Britse en Amerikaanse kultuur is dit deesdae heel aanvaarbaar om “oh my God” te gebruik. Die sinoniem daarvoor in Afrikaans is “o God”, maar dit is nie die ekwivalent nie. Die ekwivalent is die woord of frase wat nie net dieselfde inhoud nie, maar ook dieselfde impak oordra.

Dieselfde beginsel geld vir sosiale taboes en pornografie. Die vertaler kan nie aan die outeur en/of uitgewer voorskryf wat in ʼn teks moet voorkom nie, maar die vertaler mag besluit dat sekere inligting in die teks die lesers van die teks gaan afstoot, antagoniseer of emosioneel betrek op ʼn manier wat nooit in die oorspronklike teks bedoel is nie. Dink hier bloot aan die polemiek wat in die Moslem-gemeenskap ontstaan het oor neerhalende verwysings na die profeet Mohammed in sekere Europese tekste. Hoewel taalgemeenskappe deur verskillende dinge ontstig word, word alle taalgemeenskappe oor bepaalde goed ontstig. Dit is die taak van die vertaler om sodanige ontstigting te verhoed indien dit nooit die bedoeling van die oorspronklike teks was nie.

 

LEES VERDER
profile pic

Die taalkunde as studieveld

Donderdag 16 Julie 2015 Geplaas deur Gerhard van Huyssteen

Taalkunde (oftewel linguistiek) as vakgebied het baie interessante vertakkings. Hier is 'n paar voorbeelde met eenvoudige verklarings:

  • Psigolinguistiek: hoe taal in mense se koppe (psige/verstand) verwerk word (byvoorbeeld aangeleer word)
  • Neurolinguistiek: hoe taal in die brein verwerk word (d.i. die fisiologiese prosesse)
  • Sosiolinguistiek: hoe taal in verskillende gemeenskappe ("societies") gebruik word
  • Rekenaarlinguistiek: hoe rekenaars taal verwerk (in Engels "computational linguistics")
  • Korpuslinguistiek: 'n metodologie wat gebruik word om patrone in groot versamelings taal (in korpusse) te soek
  • Forensiese linguistiek: 'n metodologie wat gebruik word om die skrywer van 'n teks te identifiseer
  • Historiese taalkunde: hoe 'n taal ontwikkel. 'n Spesifieke onderdeel is die etimologie, wat die ontwikkeling van woorde en hulle betekenis bestudeer.
  • Vergelykende taalkunde: 'n metodologie om ooreenkomste en verskille tussen tale te bestudeer.

Prof Gerhard van Huyssteen

LEES VERDER

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.

NUUSARGIEF

FACEBOOK