profile pic

Agt koeke en ʼn homofoon

Donderdag 10 September 2015 Geplaas deur Sophia Kapp

Ek het ʼn neef wat in die Kaap woon en werk. Ons sien mekaar min, maar wanneer ons saam is, is dit asof ons eergister laas oor ʼn lekker cabernetjie geklets en geskinder het. Voëls van eenderse vere. Krappe van dieselfde dam.

Ons dam is Natal, eintlik die ou Zoeloeland. Die oupa wat ons deel, was ʼn bestuurder op ʼn suikerplaas (wat in werklikheid beteken het hy was ʼn bywoner met ʼn mooi huis) wat sy grootwordjare op Karatara moes deurbring. Dis bos, vir die Gautengers. Knysna. Karatara is deur die destydse regering as bosboustasie gevestig en was een van die projekte wat ʼn oplossing vir die armblankevraagstuk moes bied.

Die omstandighede was moeilik. Dalk selfs haglik. Oupa het nooit vreeslik baie besonderhede gegee nie. Wat ek en my neef wel weet, is dat die stigma van arm en Afrikaans wees Oupa vir die res van sy lewe agtervolg het. En dat alles wat hy gedoen het, gedoen is om sy verlede te besweer.

Hy was ʼn bitter stoere Afrikaner in ʼn onversetlik Engelse wêreld. Hy het ʼn debatsvereniging op die dorp gestig en gesorg dat daar Afrikaanse films in die kerksaal vertoon word. Hy het ʼn lid van die ATKV geword in die jare voordat voorkeurbehandeling by luukse oorde die lokaas was en jy aangesluit het vir die saak. Hy het op sy eie Pietermaritzburg toe gery om die Natalse Onderwysdepartement die stryd te gaan aansê om ook Afrikaans as medium van onderrig by die plaaslike laerskool aan te bied. Die Onderwysdepartement het gesê hulle sal ʼn Afrikaanssprekende onderwyser aanstel as hy 26 gesinne kry wat bereid sal wees om hulle kinders in Afrikaans te laat leer. Hy het hulle gekry. En op ʼn tyd toe ander jong dogters die skool vroeg verlaat het om te gaan help verdien, het hy syne universiteit toe gestuur. Sodat sy ʼn Afrikaansonderwyseres kon word.

Oupa was puntenerig oor sy taal en het aangedring daarop dat jy ook moet wees as jy met hom praat. Ek en my neef is die oudste van sy kleinkinders. Dat ons by hierdie man meer as net ons donker oë sou erf, was onvermydelik.

So bel Neef my op ʼn dag. Boosaardig woedend. Ek hoor net elke derde woord, want hy vloek lank en vlot en aanmekaar. (Ons is taalvaardig, nie noodwendig ordentlik nie.)
Wat is dan nou fout? vra ek ewe bedees.
Daar is ʼn nuwe meisietjie by die werk wat die fakture moet uitmaak, hoor ek. So ʼn ou fraai dingetjie wat die vorige jaar matriek geskryf het en nie weet waar om ʼn punt in ʼn sin te sit nie.
Ek grinnik, want ek weet wat kom. Is ook so.
Die vorige dag vra hy haar om ʼn faktuur uit te maak aan “Uitkyk Diggers”. Vandag kry hy dit terug. Uitgemaak aan “8Cake Diggers”.

LEES VERDER
profile pic

Die pen

Woensdag 02 September 2015 Geplaas deur Sophia Kapp

Kry anderdag ʼn pen present. Pragtig, elegant, ingevoer. Duur. Jy kan sommer sien die ding het agtergrond en klas en kan sy bloedlyn terugspeur tot by die gansveer waarmee Friedrich Wilhelm van Pruise sy laaste wil en testament onderteken het. Van ʼn vriend wie se woorde altyd min was, maar wat nou ook nog sukkel om te praat ná ʼn paar rondes met stemdistrofie. Ek weet hy versamel penne. Die “goedkopes” is in ʼn spesiale uitstalkas in sy voorportaal. Die dures is in ongemerkte skoenbokse in die kas in sy studeerkamer gebêre. Almal is versamelitems. Die een wat hy vir my gegee het, ook.

Ek is oorweldig, nie net deur die geskenk nie, maar veral deur die deernis en die stil ontsag waarmee hy die boksie – hierdie soort penne kom in spesiaal ontwerpte boksies – in my hande plaas. Dis ʼn oorhandiging. ʼn Formele erkenning van ʼn wedersydse waardering.
Maar nog kosbaarder as die pen, is die woorde wat hy vir my saamgee: “Die pen is magtiger as die swaard,” sê hy vir my. “Dis sodat jy dit altyd onthou.”

Inderdaad. Die uitdrukking is vir die eerste keer deur Edward Bulwer-Lytton in sy drama Richelieu gebruik, presies ʼn jaar nadat die maatskappy wat my pen gemaak het, tot stand gekom het. Ewe oud. Vandag nog net so betroubaar en standvastig soos destyds.
Dis ʼn waarheid wat ek daagliks ervaar.

Ons leef deesdae amper geheel en al in ʼn wêreld van woorde. Ons kry ons nuus virtueel, ons koop virtueel, ons kla virtueel, ons doen virtueel navraag, ons kuier virtueel. Dis ʼn gesiglose, dikwels naamlose interaksie met mense wat ons nie ken nie en ook nie beplan om te ontmoet nie. En omdat ons nie ʼn gesig aan die woorde koppel nie, sê ons wat ons wil soos ons wil.

Ons kla gereeld oor ons kinders wat nie kan spel nie omdat hulle op hulle selfone lê. Vir my lê die probleem dieper: Hulle kan nie stilsit of stilbly wanneer dit van hulle verwag word nie, want hulle is gewoond aan ʼn deurlopende gekwetter. Hulle weet nie hoe om ʼn gesprek te voer nie, want hulle praat in afkortings. Hulle het nie maniere nie, want hulle herken nie meer sosiale hiërargieë nie. Hulle weet nie wat dit verg om ʼn gesin of gemeenskap of samelewing stabiel te hou nie.

Maar is ons anders? Beter? Kyk ʼn bietjie na die kommentaar by koerantberigte. Dis bar, beledigend, amper gewelddadig. Mense kap na mekaar asof daar nie ʼn persoon aan die ander kant van die woordewisseling is nie. Dis dieselfde ding op Facebook. Ek het al ʼn paar keer aan my eie lyf ervaar hoe iemand wat in werklikheid stil en skaam is op ʼn openbare forum woorde soos wapens kan inspan. En nie ʼn duit omgee watse skade aan die ander kant aangerig word nie.

My vriend het gesê ek moet mooi kyk, die pen se knippie lyk soos ʼn pelikaan se snawel. Vir my lyk dit baie na ʼn panga.

LEES VERDER
profile pic

Keer vir jou loef

Woensdag 26 Augustus 2015 Geplaas deur Sophia Kapp

ʼn Vryery is nie ʼn maklike ding nie. Daar is soveel gevare en bedreigings verbonde aan enige voorgenome verhouding.

Die pelle, om mee te begin. Want dit kan wees dat een van hulle ʼn oog op dieselfde meisiekind as jy het. As sy jou kies bo hom, is jy sy vriendskap kwyt en as sy hom kies bo jou, is jy jou hart kwyt. Dis ʼn verloorspul, maak nou nie saak hoe suksesvol jy is nie.
Die enigste slegter scenario is dat sy een van jou pelle se eks is. Want sy gaan jou beskuldig van ʼn nota-uitruilery en hy gaan jou beskuldig van diefstal, al is jy te naïef om te weet waaroor dit nou eintlik is waaroor jy moet notas uitruil of wat dit is wat jy sou gesteel het.
En dan is daar natuurlik nog haar BFF’s, haar BFFACC’s, haar BFFL’s, haar GBF’s en haar homies, wat almal om een of ander rede die gesag het om jou teenwoordigheid in haar lewe goed of af te keur.

Maar niks, niks, niks is so erg soos Die Pa nie. Hy is die man in haar lewe; haar eerste liefde; die een wat die heel beste weet watse gevare jy alles vir haar inhou. Kortom, sy grootste vrees in hierdie lewe is dat jy is soos wat hy was.

Hierdie skrikwekkende verwikkeling het onlangs in vriende se huis plaasgevind. Die jongejuffrou is vyftien en sexy en die manne begin belang stel. Sy is nie dom nie, sy gee hulle kans om klaar te pronk, en uiteindelik is daar een wat haar geval. Aan die etenstafel kom die aankondiging: sy “date” nou.

Die ma is pragmaties: sy nooi oor, gesels, vra uit, luister en gee die jongman genoegsame geleentheid om sy ware kleure te wys. Sy weet sy kan nie die gety keer nie, maar sy kan bepaal waar haar kind op die strand is as hy inkom.

Die pa is nie met soveel insig of geduld geseën nie. Hy brom, nie vreeslik onderlangs nie. Hy boor gate in die tuinmuur wat hy nie daarin wou gehad het nie. Hy stook ʼn vagevuur in die ingeboude braai vir agt tjoppies en ʼn stringetjie wors. Hy drink ses biere in plaas van sy gewone twee. Niks help nie, die mannetjie bly ʼn steen des aanstoots.

Maar die bom bars toe die tweetjies ná middagete boontoe verdwyn om te gaan YouTube. Die pa is rasend. Wat vir ʼn seunskind kyk nie op ʼn Saterdagmiddag krieket nie? En wat is ʼn gejoetjoep? In sy huis, nogal!

Die ma paai en probeer die gemoedere kalmeer. Help liewer vir Boetie met sy skoolwerk.
Boetie gaan haal ewe gedwee sy boeke. “Pa, ek het huiswerk vir Afrikaans. Idiome. Wat beteken ‘iemand die loef afsteek’?”

“Ek weet nie,” bulder die pa. “Maar gaan sê jy vir daai boyfriend van jou suster as hy ʼn vinger op haar lê, steek ek sy loef vir hom met ʼn graaf af!”

LEES VERDER
profile pic

Die Cowboy

Woensdag 26 Augustus 2015 Geplaas deur Sophia Kapp

Sien in jou kop die prentjie. (Jy moet self die agtergrondmusiek verskaf. Dink mondfluitjie. Dalk kitaar. Klaend, met ʼn ondertoon van gedoemde desperaatheid.)

Die toneel begin buite. Wit, wit son; hittegolwe wat uit die drooggebakte aarde opslaan. Elke nou en dan roer die wind ʼn wolk rooi stof die ylblou lug in, waar dit ʼn paar keer dwarrel voordat dit weer lusteloos eenkant gaan lê. Die geel grasstingels roer stokkerig in die louwarm bries.

Die gebou is oud en van die begin af bedoel om funksioneel te wees – langwerpig met ʼn ry vensters aan weerskante, sementstoep aan die noordekant. As jy instap, is die hitte soos ʼn klap. Die dakwaaiers is aan, maar dit stuur net die hitte van die sinkdak af ondertoe. ʼn Brommer beur desperaat maar tevergeefs teen die oop ruit. Teen die muur is daar ʼn ry stoele, almal verskillend. Die mense wat op hulle sit, lyk soos vee by ʼn vendusie.
Die plek ruik na outydse ink en vorms en staatseep en moedeloosheid.

Ek gaan sit op die laaste oop stoel. Ek móét hier wees: ek moet ʼn afskrif van my ID laat waarmerk. Vandag. Ek het geen ander keuse as om te wag nie.

Die tannietjie in die gelapte Duitse sis is eerste klaar en sy staan op. En toe ek hom uit die hoek van my oog gewaar, weet ek sommer: hier kom moeilikheid.


Hy is lank, rankerig skraal, met kniekoppe wat aan mekaar wil-wil raak. Dis amper nie moontlik om te sien waar die kakiehemp se verrimpelde kraag ophou en waar die verrimpelde nekvelle begin nie. Maar die mond is op ʼn dun streep getrek.
“Ek wil in Afrikaans bedien word!” vuur hy die eerste salvo af.
Die polisiebeampte agter die toonbank maak beleef verskoning dat sy nie Afrikaans magtig is nie en vra of hy bereid is om oor te slaan na Engels.
“Nee. Gaan soek iemand wat met my in my taal kan praat!”
Sy moes hierdie scenario herken het, want sy staan dadelik op en stap na die stasiebevelvoerder se kantoor toe: ʼn hokkie so groot soos ʼn besemkas agter ʼn boekrak.
Hy kom saam met haar uit.
“Kan jý Afrikaans praat?” kom rondte twee.
“No, sir. I apologize for that. We are only able to assist you in English. It is not our first language either, so I admit that it is not ideal, but al least we will be able to go forward.”
“Ek wil in Afrikaans bedien word! Dit is my grondwetlike reg!”
“I know, sir. But the reality is that we do not have staff on duty who can speak Afrikaans. Would you be willing to help us by speaking English?”
Uiteindelik gee hy in, dikmond en sonder grasie, en gaan sit. Sy Engels is nie vlot nie, maar dis heeltemal goed genoeg om die verklaring in af te lê.

Ek kyk hom so en wonder of hy weet hoeveel skade hy die taal vandag aangedoen het. Al is dit net in my oë.

LEES VERDER
profile pic

Die keiser, en die kinders, is kaal

Woensdag 12 Augustus 2015 Geplaas deur Sophia Kapp

ʼn Vriendin kom kuier. Kleinkind, ʼn matrikulant aan ʼn baie duur en eksklusiewe privaat skool, stert saam. Sit by ons in die kombuis terwyl ons klets en ek rooisous in ʼn pot roer. Die gesprek trek in die rigting van die skool, soos wat dit maar gaan as daar ʼn tiener deelneem. Dis nog net id.

Ons gesels oor alles wat skoolgaan belangrik maak: kêrels, partytjies, drank, grimering, selfone, matriekafskeidrokke en diëte. En so hier en daar en tussenin so ʼn bietjie skoolwerk. Kleinkind vertel van Shakespeare se Macbeth, wat hulle voorgeskrewe werk is. Ek vertel van my formidabele Engels-proffie wat in my derde jaar op Bloemfontein, in ʼn saai lesinglokaal sonder enige dekor of kostuums of slim beligting, al die rolle in Hamlet op sy eie voor in die klas vertolk het en my vir ewig aan drama verslaaf gemaak het.

Vriendin sit net en luister. Sy het in die laat 1950’s iewers in die Verre-Noord-Transvaal gematrikuleer, waar Engels net so vreemd was as Latyn. Maar Shakespeare het hulle geshakespeare, want dit was goed vir die gees en die planeet is groter as ʼn mens se agterjaart. “Ons het Julius Ceasar in matriek gehad,” kom haar skugter bydrae tot ʼn gesprek wat haar reeds op die eerste draai afgesmyt het.
Daar is ʼn dodelike stilte. Die soort stilte wat jou laat asem ophou. Want jy weet: hier kom ʼn ding.

En dit is toe ook so. Kleinkind kyk op, die ene grootogige verwondering, en vra: “Oh, was he your English teacher?”

Die arme kind is helaas nie die enigste wat kaal in die strate ronddwaal nie. Ek het my verwonder aan my studente, die room van die oes, se gebrek aan kennis wanneer hulle vertaaloefeninge moes doen. Hulle weet alles van Kim Kardashian se katelkaskenades, maar hulle weet nie dat daar gister ʼn paar duisend mense iewers in ʼn geweldgeteisterde uithoek van die aarde uitgewis is nie. Hulle verstaan nie die omvang van tragedie of die impak daarvan op die mensdom nie. Hulle kan nie onthou dat die sluipmoord op ʼn onbekende Russiese aartshertog in ʼn strategies onbelangrike landjie die hele wêreld oornag in die hel gedompel het nie.

Die ergste van alles is dat hulle nie omgee dat hulle nie weet nie.

Hulle is nie nuuslesers nie. Hulle is ook nie nuuskierig nie. Die lewe bestaan vir hulle uit hulle klein kring kennisse op WhatsApp en die plaaslike winkelsentrum. Hulle verwerf grade in plaas van kennis. Hulle lewe uitkomsgerig in plaas van doelgerig. Hulle kan lees en skryf, maar hulle het niks om te sê nie.

Wie se skuld is dit dat ons kinders so skamel geklee die lewe instap? Die onderwysstelsel? TV? Sosiale media? Of is dit ons, wat hulle deur ons voorbeeld en versuime geleer het dat middelmatigheid goed genoeg is?

Dit is nie. Veral nie as jy met taal werk nie. Want dis nou die een professie waar jy nie jou gebrek aan behoorlike kleding kan verdoesel nie, al sê jy wát.

LEES VERDER

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.

NUUSARGIEF

FACEBOOK