Items per datum gefilter: Mei 2019

Toe ek nog vir kinners was, had ons penvriende. Ek kan nog onthou dat ek met twee mense gekorrespondeer het: ene in Duitsland, ene in Mauritius. Jy skryf ʼn brief op baie ligte papier (want anders word dit duur), bespuit die ding met jou deodorant en stuur dit dan per poskantoor. Dan wag jy weke om ʼn antwoord te kry …

Tot my skaamte moes van my moderne e-penvriende selfs maande wag op taalantwoorde. Nou rits ek sommer ʼn klomp so agter mekaar in. “Oop briewe” is mos deesde vreeslik modieus …

lagHoe lag ’n mens in Afrikaans? Of liewer: “Hoe moet ek in skriftelike Afrikaans korrek lag: Haha, Hahaha, Ha-ha, Ha-ha-ha, Ha ha, Ha ha ha, Bwahahaha ...?” So vra Hennie onlangs op Facebook.

Lol. Die klem op korrektheid hier laat my glimlag en ek wil nog –

Maar die ywerige Taaltameletjieraadgewers het Hennie klaar na reël 12.14 van die AWS verwys: “Reduplikasies waarvan die dele identies is, asook afleidings en fleksievorme daarvan, word met ’n koppelteken geskryf”: “fluit-fluit”, “plek-plek”, “staan-staan”, “’n-’n”, “t-t-t” ...

Ook “ha-ha-ha”, dus. Soos Huisgenoot glo skryf. “Ook so geleer – met ’n uitroepteken,” beaam Bloemfontein se Skrywersvereniging.

Ha-ha-ha! Vir hoeveel soorte lag (beleefd, boos, kinderagtig, sarkasties, slu, spottend, stout, verveeld, verleë, ...), wonder ek, deug dié “bo-opse lag”, soos Langenhoven sou sê? Sou hy ook in sy vuis gelag het (in sy mou sou glo anglisisties wees), want lag kom tog nie altyd uit die maag nie?

In die laaste doodsnikke van hulle verkiesingskampanje twiet die ZACP: “... We believe in our creativity and ability to innovate, Let’s unleash that on the universe.”

ZACP1

Niks opvallends in die Twitterversum nie, behalwe dat hulle toe self enkele sekondes later op hulle eie twiet reageer met: “*Apologies for the rogue comma. We care about punctuation but Autocorrect is The Man.”

ZACP2

Was dit nie dat hulle hulle manlik chauvinistiese onderbroek met daardie “Autocorrect is The Man” bevestig het nie, het ek my kruisie Woensdag dalk agter dié klomp manne getrek.

Hoe heet u? En hoe skryf u dit?

Dinsdag 07 Mei 2019 10:28

Sommige van ons dra nie net swaar aan ons genetiese belasting nie, ons het boonop nog ʼn klomp name van voorouers geërf wat ons met ons moet saamdra (met geen plaas om daarvoor te wys nie), net soos die arme jong seuntjie in Jan Pohl se lawwe liedjie "Die Mannetjie". Ek het in my skooldae ook onder die bank ingeduik as my name van die klaslys afgelees is, maar ek het darem met die jare geleer om my klomp name met trots te aanvaar omdat dit my verbind aan mense vir wie ek lief was. Maar as dit by die skryfslag kom ... Nie net pas dit nooit op ʼn vorm in nie, wanneer daar nog titels bykom, raak dinge behoorlik morsig.

“Iemand het op ’n kol gesê taal is waarskynlik die grootste kenmerk van ons menswees. ’n Ander persoon het gesê taal is daardie anonieme, kollektiewe kuns wat die resultaat is van die kreatiwiteit en vindingrykheid van duisende geslagte.

“As woordeboekmakers is dit ons taak en reuseuitdaging om aan daardie anonieme en kollektiewe kuns gestalte te gee. Woordeboekmaak is ’n uitdagende werk, wat die kognisie betref en op vele ander terreine. Ek wil amper sê dis ’n soort Sisufoswerk. Sisufos was die man in die Griekse mitologie wat deur die gode aangesê is om ’n groot klip teen ’n berg uit te rol en as hy bo kom, neuk die klip weer af tot onder. Dan moet hy van voor af begin en die ding boontoe vat.

“Dit is min of meer wat leksikografiese werk ook is. Omdat ons gestalte gee aan woorde, is ons in ’n sekere sin kuratore van taal. Dit is ’n groot en moeilike taak en verantwoordelike werk. Daarby is die skryf van ’n woordeboek min of meer soos om liefde te maak: Jy weet nie altyd of jou vreugde gedeel word en of jou insette waardeer word nie. Woordeboekmakers verwag nie dat hulle werk geprys sal word nie; hulle kan maar net hoop hulle word nie te veel verwyte toegeslinger nie.”

So sê dr. Frikkie Lombard, eindredakteur van die Woordeboek van die Afrikaans Taal, op 17 April 2019 op Stellenbosch by die bekendstelling van Deel 15 van die WAT – die tweede deel van die letter S wat uiteindelik uit drie dele gaan bestaan, want S is natuurlik die langste letter van die Afrikaanse alfabet en die letter, dus, waarmee die meeste woorde in Afrikaans begin.

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.

NUUSARGIEF

FACEBOOK