Pase, Pasga, hase en bolletjies

Geplaas deur Jana Luther Sondag 21 April 2019
Gepubliseer in VivA;

PaseOor die oorsprong van die feesdae, die Joodse feesmaaltyd, die mite van die paashaas, die storie van paaseiers, en die geskiedenis van en bygelowe oor paasbolletjies.

Met ingang van die eerste Sondag ná volmaan, ná die begin van die lente op 21 Maart in die Noordelike Halfrond en die begin van die herfs in die Suidelike Halfrond, vier Christene die wêreld oor Paasfees.

Met Paasfees, ook Pase genoem, word volgens die Christelike geloof die opstanding uit die dood (op Opstandingsondag) van Jesus (Christus) gedenk nadat Hy op die Vrydag (Goeie Vrydag, volgens die Bybel op Golgota, ’n plek buite Jerusalem) aan ’n kruis gesterf het.

Paasfees, wat oor twee dae strek, Paassondag (die eerste Paasdag) en Paasmaandag (die tweede Paasdag), is een van die drie belangrikste feeste wat deur Christene gevier word. Die ander twee is Kersfees (wat die geboorte van Jesus herdenk) en Pinkster (op die 50ste en 51ste dag ná Paasfees, wanneer Christene, volgens die Bybel, die neerdaling of uitstorting gedenk van die Heilige Gees oor die eerste verkondigers van die Evangelie nadat Jesus na die hemel opgevaar het).

In Christelike kringe gaan die Paastyd met plegtige kerkdienste en allerhande seremonies en rituele gepaard.

In die Joodse geloof, daarenteen, is Paasfees – oftewel die Pasga of Pesach – die Fees van die Ongesuurde Brood.

Die Joodse Paasfees herdenk die uittog van die Israeliete uit Egipte – die Bybelse verhaal wat in die boeke Eksodus, Levitikus, Numeri en Deuteronomium van die Ou Testament vertel word. Volgens historici het die verhaal van Joodse slawe in Egipte en hoe hulle uiteindelik van hul onderdrukking bevry word, sy oorsprong in die 9de of 10de eeu vóór die huidige jaartelling.

Tydens die Joodse Pasga wat sewe tot agt dae duur, word onder meer ’n lam geslag en ongesuurde brood geëet. Baie spesifieke eetvoorskrifte geld vir hierdie tyd.

Die belangrikste viering in die Pasgaweek is die Seder, ’n feestelike ete op die eerste aand van die fees. Die Sedermaal bestaan uit ses simboliese kosse:

  • Haroset is ’n mengsel van appels, neute en wyn. Dit stel die mortel, die messel- of pleisterklei voor (die “dagha”) wat die Joodse slawe gebruik het om vir die Egiptenare hul piramides te bou.
  • Daarby word ’n niebitter wortelgroente soos gekookte aartappel geëet, wat die slawe se harde werk verteenwoordig.
  • ’n Lams- of bokboud op die tafel simboliseer die offer van die lam tydens Paasfees.
  • ’n Hardgekookte eier vergestalt die offer in die tempel.
  • Bitter kruie, soos peperwortel, pietersielie, groen ui of seldery, word geëet om aan die bitterheid van slawerny te herinner.

Saam met dié maal word matso, ongesuurde brood, geëet.

Die geskiedenis van die Joodse Pasga en die gebede en reëls vir die Seder is vervat in die Haggada, die boek wat Joodse gesinne en families by die tradisionele huisgodsdiens op die eerste twee aande van die Paasfees gebruik.

Maar vir baie Christene én nie-Christene, Jode én nie-Jode is Paasfees vandag ook ’n tyd van eiers en hase.

Waar kom dié paashaas vandaan? Uit die Christene se Bybel of die Jode se Tora(h) kom hy tog nie.

Die paashaas het sy oorsprong in Duitsland. In Afrikaans praat ons van “Paasfees”, soos in Nederlands ook, maar in Engels word dié tyd van die jaar “Easter” genoem, en in Duits “Ostern”. Die Duitse woord Ostern is die meervoud van Ostara, wat volgens sommige, onder andere die Duitse taal- en letterkundige Jacob Grimm, in Oudhoogduits die naam van die Duitse godin van die lente en vrugbaarheid was. Sy heet soms ook “Eostra”.

Die woorde Ōstarūn en Ēostron en hul moderne ekwivalente (die Duitse Ostern en Engelse Easter) het dieselfde wortel. Al twee is afgelei van die Oergermaanse woord vir die ooste, *austrōn-, wat op sy beurt verwant is aan die Litouse woord aušrà wat die ‘aanbreek van die dag’ of ‘dagbreek’ beteken.

Ostern was in Germaans die naam van die Lentefees wat in die Noordelike Halfrond gevier is lank voordat die Christene daar aangekom het. Taalkundig lyk dit dus asof dié fees na die opkoms of die terugkeer van die son genoem is. Toe die Christene hulle in Germaanse gebied vestig, het die Germane se Lentefees en die Christene se Paasfees saamgeval.

Maar terug na die paashaas:

Kevin Shortsleeve, verbonde aan die Christopher Newport Universiteit in Amerika, vertel van ’n ou Duitse legende ...

Op ’n dag vind ’n meisie ’n voël in die sneeu. Die voël het seergekry en is sterwend. Die meisie bid dat die godin Ostara moet kom help. Ostara verskyn uit die lug op ’n reënboogbrug wat die sneeu voor haar voete laat wegsmelt. Toe die godin sien hoe erg die voël beseer is, verander sy hom in ’n haas en maak aan die meisie ’n belofte: Een maal per jaar sal dié haas terugkeer – met reënboogeiers!

Van die 16de eeu af word in Duitsland verskillende weergawes van dié mite opgeteken. In omstreeks 1680 duik die eerste verhaal op van ’n konyn wat eiers lê en dié eiers dan in ’n tuin versteek.

Volgens Shortsleeve het Duitse en Nederlandse emigrante dié stories saamgebring na die Amerikaanse staat Pennsylvania (Pennsilvanië in Afrikaans) en oor die jare daarop voortborduur.

In die 1680’s begin kinders van Germantown in Pennsylvania met hoede en musse neste om hul huise maak, en Paasoggend is dié neste skielik vol kleurryk versierde eiers! Hoendereiers.

Ook die musse en die hoede is versier. Dié is later deur spesiale paasmandjies vervang. En in Pennsylvania word Ostara se haas die Paashaas.

Vroeg in die negentiende eeu maak die eerste eetbare paashase hul verskyning in Duitsland. Eers hase van koek. Maar sjokoladehase – én -eiers – volg vinnig en teel tot vandag toe aan in supermarkte naby jou.

Nes paasbolletjies, wat tradisioneel 40 dae voor die begin van Paasfees vir Rooms-Katolieke en Anglikane se vastyd gebak is, maar vandag so te sê heeljaar in die winkels te kry is.

Oor die oorsprong van dié geurige gisbolletjies met hul kenmerkende broodkruis word ook verskeie stories vertel. Die geskiedenis van die paasbolletjie word tot die 12de eeu teruggevoer, toe ’n Anglikaanse monnik glo sulke speserybroodjies gebak en hulle ter ere van Goeie Vrydag met ’n kruis versier het.

Nog ander verhale verbind dié Paastydsimbool met bygelowe. Byvoorbeeld dat paasbolletjies wat ’n mens op Goeie Vrydag in jou huis ophang, ’n jaar van liefde en vriendskap waarborg en bose geeste van jou en jou mense sal weghou.

Wat jy ook al glo: Mag jou Paasnaweek gelukkig wees.






Lees 938 tye Laaste modifikasie op Sondag 21 April 2019 17:42

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.

NUUSARGIEF

FACEBOOK