Die pynlike passief

Geplaas deur Sophia Kapp Donderdag 18 April 2019
Gepubliseer in Nuus;

As daar nou ʼn manier is om ʼn skoolkind maagpyn te gee, ʼn onderwyser lus te maak vir drank en ʼn subredakteur na ʼn rooi pen te laat gryp, is dit as ʼn mens die aktief-passief-kwessie ophaal. (Ja, "aktief en passief" is korrek vir "bedrywende en lydende vorm". In Nederlands is dit die "actief en passief" en in Duits die "Activ und Passiv". Ander Germaanse tale gebruik dus deurlopend ook die Romaanse name vir die taalbousels.) Dié kouekoors is eintlik gans onnodig, want so ingewikkeld is dit ook nie. Daar is eintlik net twee belangrike goed om te onthou by die omskakeling van die aktiewe sin na ʼn passiewe konstruksie: 1) Die passief word spesifiek gebruik om van die onderwerp ontslae te raak, en 2) in die verlede tyd word die passiefhulpwerkwoord is oorwegend gebruik, nie was nie.

1) Hoekom gebruik ons die passief?

Die naam is reeds ʼn leidraad: Die handeling (wat deur die werkwoord uitgedruk word) word nie meer aktief uitgevoer nie, dit raak nou ʼn passiewe gebeurtenis, byvoorbeeld:
Aktief: Diewe steel elke nag ons vullisdrom.
Passief: Ons vullisdrom word elke nag deur diewe gesteel.

In die aktiewe sin is die onderwerp noodsaaklik, want die handeling steel benodig iemand om dit aktief uit te voer. In die passiewe sin is die fokus op die ding wat die handeling passief ondergaan (in hierdie geval ons vullisdrom). Die passiefkonstruksie stel die skrywer in staat om van die oorspronklike onderwerp ontslae te raak en slegs die voorwerp te behou:
Passief: Ons vullisdrom word elke nag [-] gesteel.

Hoekom sou ʼn skrywer dit wil doen?

  1. In sommige gevalle is die onderwerp so bekend dat dit onsinnig is om dit te noem. In die voorbeeldsin hier bo is die onderwerp (diewe) 100% voorspelbaar. Natuurlik is dit diewe wat die goed steel – iemand wat iets steel, is per slot van rekening ʼn dief. Dit klink sommer lomp om te sê ʼn dief steel ʼn ding, daarom is die passief ʼn gemakliker konstruksie, selfs in die spreektaal.
  2. Die onderwerp kan ook onbekend wees, en dan moet ʼn mens ʼn betekenislose plekhouer daar gaan inprop om die sin in die aktiewe vorm te hou:
    Aktief: Iemand het die huis pas geverf.
    Passief: Die huis is pas [-] geverf.
  3. Dit kan ook gebeur, veral in joernalistieke skryfwerk, dat die onderwerp nie genoem mag word nie. Verbeel jou byvoorbeeld jy moet ʼn berig skryf oor ʼn bejaarde egpaar wat in jou dorp vermoor is. ʼn Verdagte is in hegtenis geneem, en daar is sterk bewyse dat dié persoon die skuldige is, maar die verdagte is nog nie aangekla of verhoor nie. Regtens mag ʼn mens nie sê die verdagte het die moord gepleeg nie. Daarom is hierdie aktiewe sin iets wat ʼn koerant in die moeilikheid kan laat beland, en die passiewe sin die manier om uit die moeilikheid te kom:
    Aktief: Die verdagte het die egpaar in hulle slaapkamer geskiet.
    Passief: Die egpaar is [-] in hulle slaapkamer geskiet.

Baie belangrik:

Nie elke aktiewe sin het ʼn passiewe teenhanger nie. Sinne met koppelwerkwoorde (d.i. ʼn werkwoord wat die onderwerp met ʼn eienskap van die onderwerp koppel) skakel byvoorbeeld baie moeilik om in ʼn passiewe vorm:
Aktief: Hy bly moeg.
Passief: *Moeg word deur hom gebly.

Dieselfde geld sinne sonder ʼn voorwerp:
Aktief: Hy slaap laat.
Passief: *Laat word deur hom geslaap.

Afgesien daarvan is dit baie selde sinvol om kinders ʼn lys kontekslose aktiewe sinne na die passief te laat omskakel. Dis sulke oefeninge wat maak dat ek navrae soos die volgende kry: Tannie, wat is die lydende vorm van die sin My oupa-hulle jag graag springbokke in die winter? En dan moet ek vir die arme kind sê die antwoord is Springbokke word graag in die winter deur my oupa-hulle gejag. So ʼn knoeisel gee my sommer ook maagpyn. Hou dus gerus die toetssinne eenvoudig, want ʼn kind is nie slimmer of meer taalvaardig as ʼn ander omdat sy so ʼn griller kan maak nie. Sy is meer taalvaardig as sy net so goed verstaan hoekom sy ʼn passiefsin moet maak as wat sy verstaan hoe om die passiefsin te maak. Ons gebruik taal per slot van rekening om iets daarmee te doen, nie om af te wys dat ons strukture onder die knie het nie.

2) Hoe gemaak met was en is?

Net gou eers ʼn motivering: Hoekom karring ons so oor die was en is? Hoekom los ons nie maar mense om te skryf soos hulle wil nie? Antwoord: Ons kry hierdie konstruksie met die gebruik van die passiefhulpwerkwoord en al net so uit Nederlands. Ons volg die Nederlandse patroon. Die afwyking, soos wat dit hier onder aangedui word, volg die Engelse patroon. (Anders gestel: Dit is ʼn anglisisme.)

  1. In die teenwoordige tyd gebruik ons die passiefhulpwerkwoord word:
    Aktief: Diewe steel elke nag ons vullisdrom.
    Passief: Ons vullisdrom word elke nag [-] gesteel.
  2. In die verlede tyd gebruik ons die passiefhulpwerkwoord is:
    Aktief: Diewe het elke nag ons vullisdrom gesteel.
    Passief: Ons vullisdrom is elke nag [-] gesteel.
    As ons hier was sou gebruik, volg dit die Engelse patroon:
    Anglisistiese passief: *Ons vullisdrom was elke nag [-] gesteel.
    Engels: Our rubbish bin was stolen every night.
  3. Ons gebruik die passiefhulpwerkwoord was net in baie uitsonderlike omstandighede, en dit is as die handeling in die verlede tyd en afgehandel (voltooi) is teen die tyd dat ʼn tweede handeling plaasvind:
    Aktief: Toe die polisie daar aankom, het die diewe reeds die vullisdrom gesteel.
    Passief: Toe die polisie daar aankom, was die vullisdrom reeds [-] gesteel.

Ek bepleit dus weereens en by hernuwing: Toets sinvolle taalgebruik sinvol. Gee konteks. Altyd. Werk aan die hoekom net so hard as aan die hoe. Stuur kinders die lewe in met hoop en selfvertroue en die wete dat hulle hulle eie moedertaal kan beheers, nie met so ʼn groot vrees dat hulle gaan foute maak dat hulle liewer oorslaan na Engels nie.

VivA-groete

Sophia

Lees 1884 tye Laaste modifikasie op Donderdag 18 April 2019 15:48

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.

NUUSARGIEF

FACEBOOK