Koffieklets

Geplaas deur Jana Luther Saterdag 26 Januarie 2019
Gepubliseer in VivA;

koffieIn die verbygaan val my oog dié week op die WAT se artikel oor koffie.

Americano, cappuccino, espresso, latte, mocaccino ... In die digitale uitgawe van die WAT is dié name onlangs eers bygevoeg, want taal verander en die enkele Afrikaanse woordeboeke wat nog bewerk word, weerspieël dié verandering hoofsaaklik nog aanlyn. Maar oor boeretroos: swart koffie, sterk koffie, soet koffie, flou koffie; die oorsprong van dié drank, verskillende rituele daar rondom en verskillende uitdrukkings waarin dit voorkom; daaroor bevat die WAT in al sy formate altesaam 6 639 woorde.

Die 733 woorde van hierdie blog beslaan ’n raps meer as ’n enkele A4-bladsy. Oor koffie skryf die WAT dus byna 15 bladsye vol, vergeleke met die HAT se minder as ’n halwe pagina, wat die verskil tussen die twee bronne goed illustreer: Die HAT is ’n handwoordeboek; die WAT is Afrikaans se grootste en omvattende verklarende woordeboek.

Oor die oormaat ensiklopediese inligting in die WAT, veral in die dele KLA-KOL, KOM-KOR- en KOS-KYW-, was woordeboekkenners in die verlede bekommerd. Lys die betekenisonderskeidings, definieer hulle; moenie oorverduidelik nie, is gemaan. Die redaksie het geluister, die wanbalans is reggestel. Nietemin bied destyds se wydlopigheid vandag interessante leesstof.

Eers word die herkoms van die woord verklaar: Die woord koffie is aan die Arabiese woord kahwa ontleen, wat op sy beurt kom van die naam van die Abessynse landstreek Kaffa, waar die koffieplant inheems is. Eers toe die Turkse Moslems in die middel van die vyftiende eeu Konstantinopel binneval, het koffie in Oos-Europa bekend geword. Toe Jan van Riebeeck in 1652 aan die Kaap voet aan wal sit, was koffie in Nederland nog so te sê onbekend. Maar aan die vooraand van die negentiende eeu berig Afrikaans se eerste tydskrif, Ons Klijntji, dat daar in die wêreld maar min mense is “wat ni koffï drink ni”.

In die Deel VI van die WAT word allerhande koffiegewoontes belig. Vir tye van swaarkry ook allerlei vervangingsmiddels. Wanneer suiwer koffie skaars of onverkrygbaar was, het ons voorouers in die plek daarvan allerlei stowwe en mengsels van plantaardige oorsprong gebruik. Dele van omtrent enige plant wat stysel bevat, het hulle gebrand en fyngemaal en dit dan as koffie voorgesit, of dit by gewone koffie gevoeg om die aftreksel donkerder te laat vertoon, ’n bepaalde geur daaraan te gee, of om hul regte, duur koffie te spaar; dit langer te laat hou, byvoorbeeld gedroogde, gebrande en gemaalde sigoreiwortel, graankorrels of ertjies. Soms is amandels en akkers gebruik. As voorbeelde van sulke koffiesurrogate noem die WAT dadel-, droëvye-, ertjie-, gars-, gho-, koring-, mielie-, mout-, perske-, semel-, sigorei-, soetriet-, vye-, witgat(boom)- en witgatwortelkoffie. 

Ghokoffie, ook “ghoekoffie” genoem; dikwels verkort tot “gho” of “ghoe”, is koffie wat van die saad en soms ook die afgedopte pitte van die gho(boontjie), die bitter- of wildeamandel, berei word. Die saad of pitte word ’n rukkie in water laat lê; dan gedroog, gebrand en gemaal. Die saad van die wildeamandel bevat blousuur, ’n sterk gif, maar deur dit te brand, word dit onskadelik gemaak.

Onderaan sy koffie-artikel lys die WAT ten slotte ook ’n verskeidenheid uitdrukkings waarin koffie voorkom:

Slegte koffie is gal en edik – bitter soos gal, en suurderig, soos edik, die ou Nederlandse woord vir asyn. Kaal koffie, koue koffie, koffie sonder ketel, is brandewyn of ander sterk drank.

Rykmanskinders se koffie is vroeg al omgeroer. Kinders wat koffie vra, word gewaarsku teen vlooie in die maag. Wie sy koffie kokend drink, het ’n blikkeel, en lieg glo ook goed. ’n Skelm sal tot die melk uit jou koffie steel; ’n bedrieër sal die melk daaruit lieg. So maer kan iemand wees dat hy eers swart koffie moet drink om ’n skaduwee te maak. 

As iets stukkend is, is dit op die koffie. Is alles nie suiwer koffie nie, is iets nie pluis nie. Is daar moer in die koffie? Dan is daar onmin. “Jou koffie stort nou-nou” is ’n waarskuwing: Jy soek skoor; pasop dat jy nie nou-nou huil nie. 

Wie skink nog warm koffie in ’n piering, blaas daaroor om dit te laat afkoel en slurp dit dan op? So het die ou mense koffie deur die vlei gejaag, of skipgery, sê die WAT.

Is jou koffie vol vlieë, misgis jy jou. As jy êrens heen koffie, verkas jy soontoe: Ek koffie maar huis toe. Vat jy die koffie soos die kan hom skink, berus jy in jou lot.

By die WAT verskyn vanjaar die tweede van drie dele van die letter S.

Vir die skink van die tee sal ons dus nog ’n rukkie moet wag.

Beeld logo

’n Verkorte weergawe van hierdie blog het in Beeld van 25 Januarie 2019 verskyn.

Lees 1148 tye Laaste modifikasie op Saterdag 26 Januarie 2019 11:31

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.

NUUSARGIEF

FACEBOOK