Opdrag 3: Op skool word tale en taalvariëteite erken en benut

Geplaas deur Jana Luther Dinsdag 23 Oktober 2018
Gepubliseer in VivA;

kurrikulum3Vir Nederlands as skoolvak in die toekoms het kurrikulumbeplanners verlede week ’n dokument bekendgestel waarin sewe kernuitgangspunte – “7 grote opdrachten” – vir taalonderrig uitgestippel word. In Neerlandistiek, die aanlyn tydskrif vir taal- en letterkundige ondersoek, plaas die Nederlandse professor Marc van Oostendorp dié opdragte een vir een onder die vergrootglas. Met sy toestemming vertaal en deel ek hier wat hy oor elkeen skryf.

Hoe lyk die ideale vir Afrikaans as skoolvak in die toekoms?

Voeg gerus jou gedagtes by. 

 

Opdrag 3: Op skool word tale en taalvariëteite erken en benut

Deur Marc van Oostendorp
(My vertaling)

Dit is ’n groot opdrag waarin daar eksplisiet na die belangrikheid van taalkundige kennis verwys word: “Leerlinge word daarvan bewus dat hulle lewe in ’n meertalige samelewing en hulle begryp wat dit beteken. Hulle leer hoe verskillende tale en taalvariëteite mekaar beïnvloed, omdat hulle met mekaar in aanraking staan. Hulle kry insig in hoe meertaligheid werk. “Aan die kennis wat hulle op dié manier verwerf, word op twee maniere praktiese nut toegeken. Leerders leer daardeur hoe om “bewus en respekvol om te gaan met ooreenkomste en verskille in taaluitings, tale, taalvariëteite en kulture”. En daardeur gaan hulle mense van verskillende agtergronde “met eerbied en selfvertroue tegemoet”.

Dit is alles goed. Dit is moontlik ’n bietjie ambisieus – die opdrag veronderstel dat onderwysers leerders sal leer om “hul meertalige repertoire soepel aan te wend en bewus keuses te maak om doelgerig te kommunikeer”, maar dit is miskien ook wel nodig.

As ek dit reg sien, markeer dié opdrag bowendien dalk ook die grootste verandering vergeleke met die huidige onderwys. Vanaf ongeveer die begin van hierdie eeu was dit in Nederland taboe om ander tale in die klaskamer in te bring. Kinders van veral migrante moes oral alleen maar Nederlands praat om in die wêreld vooruit te kom. Dat daar allerlei redes is om die kinders ook hulle eie tale te laat gebruik, dat daar selfs aanduidings is dat dit Nederlands bevorder, maak geen verskil nie. Vreemde tale moes die klas nie in nie.

Verlede jaar het ’n brosjure van die Nederlandse Ministerie van Onderwys die eerste aanduiding gegee dat iets aan die verander is. Maar hierdie dokument is ’n ware deurbraak: Leerlinge word opgelei in die meertalige land wat Nederland vermoedelik nog altyd was, en hulle leer om met die verskillende variëteite om te gaan sodat elk sy nut kan hê.

Ek glo dat daar in dié verband ook iets meer kon gestaan het oor historiese variasie, met ander woorde oor taalverandering: Dat leerders vertroud gemaak word met die feit dat die taal altyd verander, dat dit ook in hulle leeftyd sal gebeur, en dat tegelykertyd, die almaardeur veranderende taal een van die dinge is wat mense nog saambind.

In hierdie verband val dit op dat in die nuwe dokument die term “standaardtaal” slegs één maal voorkom: in ’n bylae waarin die algemene visie van die veld gestel word: “Die leergebied [...] voorsien in die ontwikkeling van die beheersing van die standaardtaal (kwalifikasie).” Dit is ’n bietjie vreemd dat die standaardtaal so min aandag kry; vir my lyk dit steeds duidelik ’n nuttige variëteit om op skool aan te bied.

Aan die ander kant word daar gelukkig in geen enkele groot opdrag aangedring daarop dat toekomstige Nederlanders gedril moet word om alleen maar netjies te praat en te skryf nie. Selfvertroue moet hulle hê, en respek, ongeag die variëteit wat hulle self óf die ander praat.

Vir my lyk dit na vooruitgang.

Lees 1106 tye Laaste modifikasie op Dinsdag 23 Oktober 2018 20:38

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.

NUUSARGIEF

FACEBOOK