Awendrood, môre water in die sloot

Geplaas deur Jana Luther Vrydag 07 September 2018
Gepubliseer in VivA;

wolke’n Rooi lug in die aand, wanneer die son ondergaan; dit is soms ’n teken dat dit die volgende dag gaan reën. So het die ou mense geglo.

Vir mense wat na aan die natuur leef, dui verskeie dinge aan dat reën naby is. Natuurkinders weet watter winde reënbringers is. Die stand van die sekelmaan, byvoorbeeld, skuins met die onderste punt effens ingetrek, is volgens volksgeloof ’n aanduiding dat dit binnekort gaan reën: “Die maan gooi uit,” word gesê. As die reënpaddas kwaak, as die donderpadda – blaasop, janblom – sy geluid laat hoor, is onweer aan die kom. Vir baie is die kraanvoël ’n simbool van naderende reën. Party mense glo wanneer die petira, die hamerkop, roep of saam met ander van sy soort in ’n groep vlieg, daar groot reën aankom.

“Weerprofete” oral hou vol die gedrag van vlieënde rysmiere dui vir ’n kennersoog aan of dit gaan reën, of nie. In Bonnievale, word gesê, gaan dit reën as die oudak, die dolfie of fytjie-abbakaros, baie dons het. Dié “dons” is ’n verwysing na die fyn, skimmelagtige afskeiding op die rug van dié skaars, askleurige kewer, familie van die toktokkie. As die donderbesies, klein, vlieënde hardedopkewertjies – ook dondervliegies, of onweersbesies genoem – saans rondvlieg, is reën in Philippolis naby.

In Namakwaland klap die misroepertjie loodregop in die lug sy vlerkies. As dié klein voëltjie, ook “klappertjie” genoem, teen “vuilskemer nog altyd prrrrrrr-fuuuuuuut! prrrrrrr-fuuuuuuut!” kan jy seker wees dit kom reën, so word gesê. En ook as die grondgeitjie, die on-on, in Namakwaland kliek, kliek-kliek (F.A Venter). In die Karoo is daar die geloof: As die rooibaadjiesprinkaan in ’n brosdoringbos klim en daar met sy kop na die noorde toe bly sit, dit nog vier dae is voor die reën val (Beeld, 14 Jan. 2006).

Stapelwolke (cumulus), veerwolke (cirrus), laagwolke (stratus), reënwolke (nimbus), dié word gelees soos ’n boek: Pak wolke op die kruin van Stellenboschberg saam, word gesê: “Jakob sit sy hoed op”. As Jakob hoed opsit, kom dit reën. Dan panie dit in die Wes-Kaap. In die volksmond het ’n bank stapelwolke by die Griekwas ’n “boseil” geword. By die Griekwa is ’n boseil in die weste ’n seker teken van komende reën. ’n Reënboom, of reënbos, ’n groep wolke wat saam soos ’n boom met takke lyk, is volgens oorlewering ook ’n aanduiding van reën aan die kom. Nes ook ’n kêrelwolk, ’n digte, regopstaande wolk: “Nou gaan dit baie reën, kyk net die kêrelwolke daar!” het die WAT in die Noord-Vrystaat opgeteken. In ’n kêrelwolk is daar drif.

Maar ’n mannetjieswolk ... Nou ja, ’n mannetjieswolk vertoon belowend, maar hy stel teleur.

In die Noordelike Halfrond, word daar dikwels gespog, het bewoners van die ysgebiede meer as 200 verskillende woorde vir sneeu: dik sneeu, dun sneeu, ligte sneeu, swaar sneeu; sneeu in die winter, in die lente; soggens, saans ... Hoeveel soorte reën is daar? wonder ek, knus op my stadskombalkon, die WAT oop op my skoot terwyl die langverwagte een daar buite van die berg af opstaan en haar miskombers oor die Moederstad uitskud.

 

Die kleinvolk diep onder die grond hoor die sleep van haar voete,

en hulle kruip nader en sing saggies:

“Ons Suster! Ons Suster! Jy het gekom! Jy het gekom!”

 

Dit druil; dreig ...

Sy trap af van die hoogte;

sy sprei die vaal karos met al twee arms uit;

die asem van die wind raak weg

(Eugène Marais, "Dans van die reën")

 

Dan druppel dit; begin die groot dak lek. Aanhoudend of in sarsies. Lig, of deurdringend. Drywend of loodreg na benede. Gietend, gutsend, kletsend, kletterend; pietsend, plassend, swiepend, sjorrend. Verblindend in vlae. Vrylik; onstuimig. Triestig of emmersgewys. Oorverdowend en swaar. Oorvloedig, as die hemelsluise oopgaan.

Die dorre aarde drink die reën. Die dorstige aarde slurp die water gulsig in. Die blare ritsel, ruisel. Die riviere kom af.

As dit bakstene reën, of klippe losreën, reën dit geweldig hard. Bokhaelreën se druppeltjies verys. In die Kaap val vandag ’n bolandsreën; ’n aanhoudende, sagte reën; nie ’n spoelreën nie, maar ’n intrekreën wat die grond deurdrenk. Donderreën, soos in die Karoo, kom met blitse en donder, en gromwolke saam. ’n Doutjie, ook Skotse doutjie genoem, ’n kibbie of ghibbie (uit Khoi), is ’n sagte, ligte reëntjie; ’n fyn motreën, maar nie heeltemal so fyn soos misreën nie: As dit ghibbie reën dit saggies; ’n misreën klam net so effens. 

’n Enkele los bui, by Vanwyksvlei, is ’n komloertjie; elders ’n natmakertjie. As sonskyn en reën of koue mekaar afwissel, speel die weer konsertina. Konsertinareën val in kort buie terwyl die lug tussendeur oop- en toetrek. As die reën só vroeg val dat die oes misluk, is dit ’n hongerreën.

Plasreën plons. ’n Baie swaar bui is ’n kieriebui; nog swaarder buie, dambrekerbuie.

In die Kaap, in die ou dae, is reën omstreeks 1 Desember apprentjiesreën genoem. Volgens die WAT omdat dit op 1 Desember 1838, die dag toe die slawe vry geword het, buite die gewone reënseisoen swaar gereën het. Van 1834 tot 1838 was die slawe nog nie werklik vry nie, maar nog ingeboek as “apprentices”.

Soms reën dit nie juis nie; dit sabbie of sibbie net. Sifreën aan die ander kant, val aanhoudend. Soms kiesa, of kwietsja, dit dae aaneen. In die oostelike dele van die land staan dié sagte somerreën tussen November en Maart, wat soms tot drie weke (drie maal agt dae) neersypel, ook as ’n drie-agtdaereën bekend. Die deurdringende landsreën wat, wanneer die geelperskes ryp word, tot “veertien dae in die boorde val”, soos Anton Goosen sing, is ’n geelperskereën.

 

 

’n Droëperskereën, daarenteen, wanneer die perskes gedroog word, is onwelkom, want dit rig skade aan.

Jaloersbuie val nie eweredig nie maar sak plek-plek in strepe uit, sodat boere wat niks kry nie, jaloers is op hulle bure wat wel van dié jaloersweer kry.

As dit reën en die son skyn tegelyk, trou die jakkalse; trou jakkals met wolf, met bobbejaan se vrou, met boer se dogter. ’n Ligte buitjie terwyl die son skyn, is ’n jakkalstroureëntjie; ’n jakkalstroutjie, jakkalsdoutjie, of jakkalsbruilof. En Uilspieël trou ook! Gure weer is katte-en-hondeweer. Hondeweer is onplesierig, koud, winderig, onstuimig. Nat weer is eendeweer.

Joppelweer, jonkmansweer, kaggelweer, kapokweer, landsweer, misweer, mooiweer, natweer, newelweer, oesweer, pannekoekweer, stormweer, sneeuweer ...

Hoeveel soorte weer? Hoeveel soorte reën?

Teken in op die skatkis van die Woordeboek van die Afrikaans Taal, en tel maar self.

Hierdie rubriek het in gewysigde, verkorte vorm in Beeld van 7 September 2018 verskyn.

Beeld logo

Luister gerus ook na die meegaande podsending.

Lees 2082 tye Laaste modifikasie op Maandag 10 September 2018 08:05
Meer in hierdie kategorie: « Kwikkie Wielewaal »

1 kommentaar

  • Kommentaarskakel Christiaan Botha Vrydag 07 September 2018 12:25 geplaas deur Christiaan Botha

    Pragtig. Baie dankie.

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.

NUUSARGIEF

FACEBOOK