Hoeveel tale in die wêreld?

Geplaas deur Jana Luther Saterdag 18 Augustus 2018
Gepubliseer in VivA;

“Hoeveel tale is daar in die wêreld?” vra iemand per e-pos. Ek antwoord met ’n paar statistieke:

Volgens die taaldatabasis Ethnologue is daar in die wêreld vandag 7 097 lewende tale: 288 in Europa, 1 060 in die Amerikas, 1 306 in die Stille Oseaangebied, 2 143 in Afrika en 2 300 in Asië.

Die toptien lande met die meeste tale is Papoea-Nieu-Guinee (841 – meer as dubbel soveel as in Europa), Indonesië (710), Nigerië (526), Indië (455), die VSA (334), China (302), Mexiko (292), Kameroen (278), Australië (250) en Brasilië (228).

Van al dié tale gebruik meer as die helfte van die 7,6 miljard mense op die aarde slegs 23. In volgorde van die getal sprekers: Chinees, Spaans, Engels, Arabies, Hindi, Bengaals, Portugees, Russies, Japannees, Wes-Pandjabi (ook Lahnda genoem), Javaans, Turks, Koreaans, Frans, Duits, Teloegoe, Marathi, Oerdoe, Viëtnamees, Tamil, Italiaans, Persies en Maleisies.

Ongeveer ’n derde van die wêreld se lewende tale loop die gevaar om uit te sterf (volgens Unesco se atlas van bedreigde tale, altesaam 2 464). Met sewe van Suid-Afrika se Khoi- en Santale het dit reeds gebeur; met minder as 100 sprekers elk is die oorblywende drie kritiek bedreig.

Op die Linguist List-webblad word 573 uitgestorwe tale gelys, dit is tale met geen lewende sprekers meer nie.

Van die kritiek bedreigde tale op Unesco se lys is baie hoogs interessant en sommige fassinerend vreemd. Vergelyk, byvoorbeeld, die stuk of 70 tale waarvan die woorde nie uitgespreek nie, maar gefluit word. Só trek boodskappe tot vier kilometer ver, ongeveer tien keer verder as wat iemand wat iets uitroep, gehoor kan word.

 

 

Fluittale word oral in die wêreld aangetref; in Mexiko, Turkye, Togo, Nepal. Die bekendste fluittaal is waarskynlik die Silbo Gomero, “die Gomeraanse fluit” – ’n variëteit van Spaans – van die inwoners van La Gomera, een van die kleinste bewoonde eilande in die Kanariese groep.

In die aanlyn geskiedenistydskrif Historiek skryf Natascha Neef in 2017 oor Sfyria, die eeue oue taal van skaapwagters en boere teen ’n berghang suid van ’n afgeleë dorpie, Antia, op die Griekse eiland Evia.

Sfyria (die naam kom van die Griekse woord sfyrizo, wat “fluit” beteken) is ’n taal sonder woorde, maar met tone en frekwensies wat met die letters en lettergrepe van gesproke Grieks ooreenstem. In dié fluittaal (wat eers in 1969, tydens ’n soektog na ’n vermiste vliegtuig ontdek is!) kommunikeer vlot gebruikers met al die soepelheid van normale spraak. In plaas van met hulle stembande en tong vorm hulle woorde met hulle lippe, wat hulle taal soos die gekwetter van voëls laat klink.

Moderne kommunikasiemiddels het die aanleer van dié ingewikkelde vaardigheid helaas oorbodig gemaak en van Antia se sowat 40 inwoners gebruik slegs ’n handjievol vandag nog dié kritiek bedreigde taal.

Hierdie rubriek het in gewysigde vorm in Beeld van 13 Julie 2018 verskyn.

Lees 1838 tye Laaste modifikasie op Saterdag 18 Augustus 2018 16:51

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.

NUUSARGIEF

FACEBOOK